Just outside Van Wyksdorp.
It is tribute to Commandant B. M. Van Heerden who died in action when he was shot and killed by the murderer, Piet Matthyse on 30 December 1946.
Wag bietjie, vertel meer!
Toe die moordenaar Piet Matthyse op 8 Oktober 1947 in die rondgaande hof op Oudtshoorn deur regter G. Steyn ter dood veroordeel is, was dit die herinneringe aan ’n vrou, en nie die bedreiging van die galg nie, waaroor hy vir die hof iets te sê had.
In Ladismith en Van Wyksdorp se wêreld word daar tot vandag toe stories oor Matthyse vertel. Hoeveel daarvan die waarheid en niks anders as die waarheid is nie, kan ’n mens net raai, maar dat daar meestal met ’n mate van bewondering van hom gepraat word, is seker.
Tydens my gesnuffel op die spoor van ’n lank reeds gevange en opgehangde Piet Matthyse het ek heelwat stories aangehoor. En, toevallig, terwyl ek besig was om aan hierdie verhaal te skrywe, kom hou my neef Dirk my een aand uit die werk. Maar toe hy hoor waarmee ek voor sy koms besig was, vertel hy my hoe sy ma destyds, met Piet Matthyse in die distrik aan’t kwaad doen, met haar twee kinders in ’n tent by die een of ander veepos moes bly.
“Dis my wêreld daai,” sê Dirk. “Vensterkranz, Plathuis, Hondewater, Kareevlakte, Allemorgens, Valletjies, Bloutoring, Draai. Ai, man, van Van Zylsdamme tot teen Touwsberg; en regs af was ’n veepos met die naam Plankhuis. Ek en my broertjie, albei van ons kleuters, en Ma alleen terwyl my pa mis uit die veekrale na die naaste spoorwegstasie aangery het.
“Jy weet, daai Piet was ’n slim man. Hy’t partykeer agteruit geloop na ’n plek toe sodat die polisie sy spoor verkeerd sou vat.”
Piet Matthyse se dinge het kleintyd al begin. Op tien of 12 was die gereg reeds op sy spoor, en toe al was hy die polisie een voor. Eers op 37-jarige leeftyd is hy net buite Van Wyksdorp in hegtenis geneem nadat hy ’n polisieman doodgeskiet het.
’n Mens kan Van Wyksdorp van vier ander dorpe af benader, maar nie een van die paaie is geteer nie. Die pad van Ladi-smith af het ’n goeie ryvlak omdat dit gereeld geskraap word. Wanneer ’n voertuig van agter af verby kom, moet ’n mens voet van die versneller afhaal, want vir ’n rukkie is daar niks anders as stof voor jou nie.
Op die spoor van ’n moordenaar raak my verbeelding maklik met my op hol; dan verwag ek so half dat Piet Matthyse in die pad gaan staan wanneer die stof loop lê. Maar hy is nie daar nie, net sy naam en die verhale oor hom.
Die mooiste pad na Van Wyksdorp is dalk die een van Calitzdorp af oor die Rooibergpas. Hom het ek al in ’n gewone sedan gery, alhoewel plek-plek versigtig. Maar met die sterkste en vinnigste viertrekryding sal dit my ook maar lankerig neem van punt A tot B, want daar is net te veel plekkies wat my tot stilhou verlei.
Bo-op Rooiberg, byvoorbeeld, is daar ’n piekniekplek waar vroeëre reisigers, dié wat met perdekarre en ossewaens die berge oor is, ’n klipstapel laat verrys het. Met elke oortog is ’n gebed gedoen en ’n klip op die bestaande hoop geplaas.
Klim weer in die kar, ry ’n entjie op die plato, sak met die kronkels af, hou kort-kort stil, skakel die enjin af en luister. Nie na wát nie, luister sommer net. Geduld, tog, want uiteindelik kom ’n mens wel by Van Wyksdorp uit.
As daar een ding is wat ’n mens by Piet Matthyse kan leer, is dit geduld. Hy het ’n opstal of veepos dae lank dopgehou om die kom en gaan van die inwoners te bestudeer voordat hy die huis sou betree om te vat wat hy wil hê, selfs ’n vrou die kere wat hy sy sin kon kry.
Vertrek ’n mens uit Herbertsdale na Van Wyksdorp, lei ’n mooi kronkelpad jou tussen plase deur bergop. Dan sak jy af na die Gouritzrivier (’n lekker piekniekplek) en beur opnuut die skerp steiltes uit met die Cloetespas oor die Langeberg tot in die Klein Karoo.
Hier het Matthyse kos gesteel en anderman se skaap geslag.
Op ’n dag het hy by ’n winkel op Kareevlaktestasie ingebreek en ’n briefie agtergelaat: “Oubaas, ek is jammer die winkel was toe. Ek het dit toe oopgebreek en my sommer self gehelp en sal die winkel weer goed toemaak. Ek is nou ’n soldaat. Sê groete aan Ma. Koos Pieterse.”
Toe hy ’n veewagter se kos gegaps het, het hy vir die ou man geskrywe: “Oompie, ek sit ’n paar geldstukkies vir jou neer, want ek het nie die kos gesteel nie, ek het mos daarvoor betaal – Piet Soldaat.”
Om van Riversdal af by Van Wyksdorp uit te kom ry ’n mens deur die lieflike Garciapas (geteer) en dan met die grondpad al langs die Langeberg tot waar die naambordjie jou links laat wegdraai.
Piet Matthyse sou al hierdie paaie geken het, én ’n klompie ander wat hy net met boerbokke en bobbejane gedeel het.
Van tyd tot tyd is perdekommando’s agter hom aangestuur, maar niemand kon hom vastrek nie.
Wanneer die wêreld te warm vir Matthyse geword het, het hy die pad gevat. Meestal weliswaar te voet, maar soms ook, wanneer hy die dag genoeg geld gesteel het, per trein. So het hy na Port Elizabeth gereis, na Durban, Johannesburg, Warrenton, Kimberley en Graaff-Reinet. Hy sou maande uit die Klein Karoo wegbly, lank genoeg om sy ou spore te laat koud word. Ander kere het nuwe moeilikheid wat hy gemaak het of geldnood hom teruggedryf.
Nadat hy die skaapwagter Jan Kamfer se huis rot en kaal besteel het, was daar van Jan se vrou, Roos, geen spoor nie. Eers later het die polisie uitgevind dat sy vrywillig saam met Piet die berge in is en daar het hulle haar later in hegtenis geneem.
Piet skryf op ’n Union Brand Jelly Crystals-pakkie: “Ek loop saam met die itokloosie. Op Vrydag sal ek Roos weer kom haal. Koos Pieterse. Die Skelm. Ek gaan Langeberg op, dan kom ek Swartberg af. Stilletjies.”
’n Man met humorsin, onse Piet. Maar toe daag hy die nag van 22 Desember 1946 omstreeks middernag gewapen met ’n gesteelde geweer by Jim en Esther Grootboom se eenslaapkamerhuisie in die George-distrik op, en daarna sou niks meer snaaks wees nie. Grootboom het uitgeroep: “Die Here behoed ons!” Skote het geklap. In die sitkamer het twee kinders, Annie Grootboom (17) en Willem Plaatjies (12), grootoog bly sit. Annie het probeer wegkom, maar Piet het haar gevang. Hy is met die twee veld in, waar Willem weggekom en na ’n plaashuis gehardloop het om hulp te soek.
Piet het geweet dat die polisie nou met nuwe ywer na hom sou soek. Hy had niks meer om te verloor nie en het Annie verkrag nadat hy haar met die dood gedreig het.
Daarna het Piet haar laat gaan. Sy het ’n vragmotor voorgekeer.
Het ek gesê ’n mens kan Van Wyksdorp van vier dorpe af benader? Dis nie waar nie. Daar is ’n vyfde: Oudtshoorn.
Die nuus van die Grootboom-moorde het soos ’n veldbrand deur die Klein Karoo versprei. Neef Dirk se ma sou snags ligter moes slaap wanneer haar man om den brode elders was. Piet Matthyse was nie meer net ’n inbreker en veedief nie, en hy was op pad na haar kant van die Klein Karoo.
Die polisie, bygestaan deur ’n bloedhond, het Piet se spoor gevolg van waar hy by ’n veewagter se huis ingebreek het. Op Kersdag het hulle afgekom op ’n plek waar die voortvlugtige geslaap het. Die kole van sy vuur het nog gegloei.
Op 26 Desember het Matthyse ’n ma en haar twee dogters gedwing om hom te vergesel.
Twee nagte moes die ouer vrou ter oorlewing saam met hom slaap. Toe een dogter op 28 Desember flou val, het hy die drie laat omdraai huis toe.
Piet Matthyse se spoor draai by Volmoed, wes van Oudtshoorn, in die rigting van Van Wyksdorp. Die Burger berig op 31 Desember 1946: “’n Kleurling is gistermiddag omstreeks vyfuur sowat 6 myl buitekant Van Wyksdorp in die rigting van Riversdal in hegtenis geneem nadat die soekgeselskap van sowat 100 konstabels en nagenoeg net soveel boere deur die dag die omgewing gefynkam het. Gisteroggend omstreeks agtuur is kaptein B.M. van Heerden, Distrikskommandant van Polisie op Oudtshoorn, in ’n geweergeveg met die Kleurling gedood. Twee konstabels is in die geveg gewond.”
Kaptein van Heerden se dogtertjie het, toe hy sy huis die dag voor die skietery verlaat, vir hom gesê: “Moenie gaan nie, Pappa, die outa sal Pappa net doodmaak.”
Ironies was die kaptein se doopname Barend Matthys. Hy het daardie oggend drie keer teruggegaan om sy geliefdes te groet.
Matthyse was nie net ’n moordenaar nie. Hy was ook ’n verleier van vroue en uiteindelik ’n verkragter.
In die hof het hy die volgende gesê: “Die meeste moorde wat in die wêreld plaasvind, kom deur ’n meisiemens. Ek sou lyk dat sy ook iets oorkom.”
Het die onbekende “sy” dalk Piet Matthyse se hart gebreek sodat hy onverdiende wraak teen alle vroue gekoester het, of had hy maar, soos die Bybelse Adam, iemand nodig om die las van sy eie swakheid te help dra?
* Bronne: Verskeie boorlinge van die distrik Ladismith, die C.P. Nel-museum op Oudtshoorn, en die artikel “Die moordenaar van die Klein Karoo” deur R.G. Grebe in Die Brandwag van 10 Desember 1976.