Die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika is siektes en nie onnatuurlike oorsake nie.
So het Pali Lehohla, statistikus-generaal, gister in Pretoria gesê toe hy die jongste statistieke oor die land se sterftesyfer bekend gemaak het.
Die statistieke wys tuberkulose is die grootste oorsaak van sterftes onder swart en bruin mense, terwyl hartaanvalle die rede vir die meeste sterftes onder wit mense is.
Diabetes is die grootste rede vir sterftes onder Indiër-mense.
Statistieke wys ook dat die meeste Suid-Afrikaners by hul huise sterf en nie in hospitale nie. Verder leef mense in Kaapstad gemiddeld die langste (tot 58 jaar) in vergelyking met Pretoria, waar mense gemiddeld tot 53 jaar leef.
In Kaapstad het mans tussen 15 en 49 jaar oud “weens bendegeweld” egter die grootste kans om vermoor te word.
Onnatuurlike sterftes is ook die hoogste tussen 15 en 49 jaar, met tot 15% van die groep wat dié lot te beurt val.
Die groot redes is ongelukbeserings en aanrandings.
Die statistieke is saamgestel uit data wat Statistieke Suid-Afrika van die departement van binnelandse sake gekry het vir 2007 tot 2011.
Lehohla het gesê sy departement probeer nou om die statistieke op ’n jaarlikse grondslag bekend te stel.
“Die rede waarom ons nog net tot 2011 se statistieke het, is omdat dit baie lank gevat het om die inligting te bekom en te verwerk. Ons sal egter in November die jongste sterfte-statistieke vir 2012 en 2013 bekend maak.”
Mense tussen 50 en 64 sterf hoofsaaklik weens tuberkulose, diabetes en serebrovaskulêre siektes.
Dié bo 65 sterf die meeste weens serebrovaskulêre siektes, hartsiekte en diabetes.
Lehohla het gesê dit is ontstellend dat tot 27% van sterftes as ongeïdentifiseer aangeteken is.
http://www.beeld.com/nuus/2014-03-19-in-kaap-leef-jy-langer-as-in-pta